Friday 22 December 2017

Murphy!

Murphy... die nuwe hond wat oor my drumpel getree het!

Hierdie is 'n hond met haar eie missie... Sy besluit self oor sekere dinge en hoe dit gedoen moet word. Sy het baie onverwags en onbeplan in my lewe gekom. Sy is ongeveer 'n jaar oud en het klaar 'n naam gehad - Spotty. Henry reken egter dis 'n goeie naam vir 'n hond in die vroeë sestiger jare, maar 'n mens noem nie meer jou hond "Spotty" nie - so 'n naamsverandering was definitief haar voorland!!!

Sy het die 2de Desember haar intrek geneem. Ek en my buurman het haar gaan haal. Skrikkerig en onseker het sy die terrein op haar tyd deurgeloop en dit lyk my sy is nie te ontevrede met wat sy gesien het nie.

Intussen was ons al twee keer by die veearts. Die eerste keer het ek haar met die leiband laat oefen om in die kar te klim, die tweede keer het sy ingewip en op die sitplek gaan sit. Sy is nie 'n vloersithond nie. Sy wil sien wat in die strate aangaan. By die veearts gekom, wip sy uit en stap in by  die wagkamer en gaan sit op 'n stoel en wat vir die veearts duidelik is, is dat hierdie 'n pasiënt is wat gebruik maak van die stoele vir tweebeenmense!

Intussen het sy haar deeglik ingewurm in elke familielid se hart. Sy het haar eie manier hoe sy elkeen hanteer, maar aan die einde van die dag, kom sit sy langs my en kyk in my gesig vir goedkeuring.

Die dame met die meeste "geite" in Kimberley, 
innoverende planne en idees, baie nuuskierig, maar 
tog so lojaal...