Mediaberigte



NUUS 
Skriba tree uit ná 55 jaar
Deur Christiaan.Cloete 17 Augustus 2016 06:00

SCHALK PIENAAR het 55 jaar 
ononderbroke diens aan die
 NG kerk Du Toitspan
as kassier en skriba gelewer. 

Foto: Karin Muller

“EK kan nie verstaan dat daar ’n ophef hiervan gemaak word nie,” sê Schalk Pienaar (84) van Kimberley nadat hy as kassier en skriba 55 jaar ononderbroke diens aan die NG kerk Du Toitspan gelewer het.

“Vir my was dit ’n werk van liefde, en as jy lief is om iets te doen, is ’n halfeeu in ’n oogwink verby,” vertel hy.

Oorspronklik het hy skepties teenoor hierdie pos wat hom aangebied is, gestaan.

“Ek het voldag vir die Spoorweë gewerk en nie geweet hoe ek die punte bymekaar gaan kry om die kerk se werk ook te doen nie.”

Schalk is egter nie iemand wat vir ’n uitdaging terugdeins nie.

“Ek het daardie tyd nie ’n motor gehad nie en het op my fiets kerk toe gery. My beginsalaris was R15 per maand. Dit was baie minder as my werk by die Spoorweë, maar ek het nie die werk vir die geld gedoen nie.”

Schalk het in De Aar grootgeword en sy werksloopbaan in Kimberley begin. Wat vreemd is, is dat hy nooit verplaas is nie.

“Ek dink die Here wou seker maar hê ek moet my werk in Kimberley doen. Almal is verplaas, behalwe ek,” sê hy.

Soos die jare aangestap het, het die tegnologie ook verander.

“Hulle het eendag vir my gesê dat al die inligting oor die kerk se sake wat ek in my kop ronddra, nou op rekenaar gesit moet word.

“Dit het my nie baie aangestaan nie, want wat weet ek van ’n rekenaar af?”

Met sy skoonseun Henry se hulp het hy die rekenaar baasgeraak en die kennis uit sy kop na die blikbrein oorgedra.

Vandag is Schalk en ’n rekenaar steeds goeie vriende.

Op sy ouderdom hou hy steeds ’n webtuiste van die gemeente op datum.

Dit was nie net die tegnologie wat verander het nie, maar ook dinge binne én buite die kerk.

“In die jare wat ek by die kerk betrokke was, het ek 14 predikante sien kom en gaan.

“Vroeër jare was daar twee dienste op ’n Sondag en die kerk was so vol dat die kerkraad in die konsistorie gesit het en met ’n luidspreker na die dienste geluister het.

“Slegs die diakens wat kollekte opgeneem het, het binne-in die kerk gesit. Vandag lyk dinge heelwat anders.”

Schalk is steeds elke dag die statige man wat deur ’n ring getrek kan word. Hoewel hy nou finaal afgetree het, maak hy steeds gereeld ’n draai by die kerkkantoor om te help.

“Prediker sê daar is ’n tyd om te begin en ’n tyd om klaar te maak.

“Dit was seker vir my tyd om klaar te maak,” meen hy.

As hy terugkyk oor sy lewe, is hy dankbaar vir elke greintjie seën wat hy geniet het en steeds geniet.

“Ons mense onderskat onsself so maklik en dit is eintlik verkeerd.

“Daar is soveel dinge waartoe ons in staat is as ons net moed het om te probeer.”


(Bron: Netwerk 24 Noordkaap 20 Augustus 2016)